Ras Erasmus ken feitlik elkeen van hierdie Verlatenfontein-stories soos oorvertel deur sy ouma Kate. Op haar doodsbed laat sy hom drie beloftes aflê. Die kans doen hom voor om hierdie beloftes na te kom toe hy 'n kwotasie moet uitwerk vir die restourasie van die opstal op Verlatenfontein nadat dit vir die vierde keer in honderd en twintig jaar net halfpad afbrand - raaiselagtig genoeg, telkens op 'n betekenisvolle datum.
Maar hy het nie rekening gehou daarmee dat daar 'n huurpag op 'n gedeelte van die plaas bestaan nie. Die huurpag is duur gekoop - nie soseer met geld nie, maar met 'n veel duurder kommoditeit. Eers toe Georgie Rabie Verlatenfontein toe moet vlug ná 'n twiet wat haar baie suur bekom het, hoor sy wat die ware storie is agter die huurpag wat haar peetma hou. 'n Huurpag waaragter Ras Erasmus aan is, en nie net hy nie.