Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed. Veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om n ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe.
Dit is egter die een upcycling-projek waarin sy jammerlik misluk het.
Sy beland op Vywerbaai waar sy n winkeltjie vir haar upcycle-produkte wil oopmaak. Die finansiele risiko’s wat sy neem is enorm en teenspoed bly nie uit nie maar sy bly vasberade – upcycle gaan sy haar lewe upcycle.
Lira wen die kosbare vriendskap van drie eiesoortige vroue en die respek van ʼn vierde maar verloor haar hart aan die verkeerdste man denkbaar – een met n sterwende vrou en n kind wat Lira haat.
Die legende van die vywervrou van Vywerbaai word die tema van Lira se winkel maar hou ook n waarskuwing in: Ter wille van sy kinders sal n man sy taaibosspies deur n vywervrou se hart druk en haar visstert gaarmaak sodat hulle kan eet.
Maar soos haar vriendin Corali se: “Ons vywervroue laat ons nie fokken opvreet nie. Deur geen man vrou of kind nie.”
Vywervrou: Lira is die eerste in Chanette Paul se nuwe trilogie wat in 2019 sal verskyn. Die tweede titel is Vywervrou: Mirre en die derde: Vywervrou: Corali.